2019 WESRAND KLEISKIETKOMPETISIE - 2019 WEST RAND CLAY SHOOT COMPETITION

5 Oktober 2019

 

Wesrand se gewilde jaarlikse Ope-Uitdaag-Kleiskietkompetisie het soos oudergewoonte op die eerste Saterdag van Oktober dus die 5de plaasgevind. Skuts van verskeie takke uit Gauteng en omliggende provinises het van heinde en ver die skiet bygewoon. Die lenteoggend was nogals vars en skuts is met koffie, beskuit en croissants begroet.

Na opening met gebed verwelkom Wesrand se voorsitter, André Botha vir almal wat teenwoordig is en word die reëls en verloop van die dag se verrigtinge in breë verduidelik terwyl die skeidsregters twee-twee uitgeskuif het na die onderskeie skietpunte toe. 

Durban Deep skietbaan was weereens omskep in 'n haelgeweer paradys met somige baie moelike dissiplines (details) wat die manne van die muise geskei het.

Dit was ook weereens verblydend om heelwat van die skoner geslag tussen die geharde manne te sien skiet en selfs 'n paar juniors het ook deelgeneem. 

 

Die baan was opgestel met nege skietpunte van verskeie moelikheidsgrade en die “squading” het gesorg dat daar met 3 spanne by elke skietpunt afgeskiet kon word. Met water en tellingkaart in elke span se hand het die kompetisie met alle erns en stiptelik op tyd begin. Die verrigtinge het redelik seepglad verloop en sommer kort voor lank het die eerste spanne hulle tellings begin inhandig. Teen etenstyd het al die spanne klaar geskiet en het ‘n ander uitdaging die honger manne in die gesig gestaar, en dit is om die middagete se vleis gaar te kry. Daar is met groot stories om die braaivleisvure gekuier. 

Nadat die manne se honger gestil is met die braaivleis en rolletjies (geskenk deur Tito en Massimo Lupini van LUPO BAKERY) was dit tyd vir die prysuitdeling. Haelgeweerammunisie as pryse is deur  INYATHI SPORTING SUPPLIES, SIXES AND SEVENS en HOTPOWER geborg. Skuts het ook ‘n kans gestaan om een van SAFARI & OUTDOOR se 10 geskenkbewyse deur middel van 'n gelukkige trekking te kon wen.

Ons sê dankie aan die Lupini broers vir die rolletjies, Jacques van Rooy, Peter Becker, Helmut Steidler en Neil Harmse vir die ammunisie en Willem Immelman vir die geskenbewyse. Ons hoop om weer volgende jaar die begunstigdes te wees van so ruim borgskap. 

Suikerbosrand se Smoking Clays het met die louere in die spankompetisie weggestap. Die “High-Gun” met 'n 43 uit 50 telling was Cecil van Jaarsveld. Onder die dames het Sanet van Jaarsveld van Suikerbosrandtak die eerste plek ingeneem. In die Juniors het Devon House van Vaaldriehoek geseëvier. Sien die verskeie wenners in die verskeie klasse hieronder. 

Die skuts het gehoor gegee en goed by die baanreëls gehou en tydens onderhoude met deelnemende skuts, het dit duidelik geblyk dat die dag weereens 'n reuse sukses was.

Baie geluk aan die wenners asook baie dankie aan 'n ieder en elk wat kom deelneem het. Ons sien regtig uit om julle volgende jaar weer by ons te hê.

 

Attachments:
Download this file (1 - WESRAND OPE UITDAAG 05-10-2019 (JUNIORS KLAS 1).pdf)Juniors[ ]48 kB
Download this file (2 - WESRAND OPE UITDAAG 05-10-2019 (DAMES KLAS 2).pdf)Dames[ ]57 kB
Download this file (3 - WESRAND OPE UITDAAG 05-10-2019 (MANS OPE KLAS 3).pdf)Mans[ ]71 kB
Download this file (4 - WESRAND OPE UITDAAG 05-10-2019 (VETERANE KLAS 4).pdf)Veterane[ ]64 kB
Download this file (5 - WESRAND OPE UITDAAG 05-10-2019 (SUPER VETERANE KLAS 5).pdf)Super Veterane[ ]59 kB
Download this file (6 - WESRAND_TELLINGKAARTE_2019_10_05_(ALGEHEEL).pdf)Algeheel[ ]64 kB
Download this file (7 - WESRAND OPE UITDAAG 05-10-2019 (SPANNE).pdf)Span[ ]51 kB

We have 1665 guests and no members online